|

AfriForum se Marble Hall-buurtwag bied bystand op plaasaanval-toneel

Lede van AfriForum se veiligheidstrukture het Maandagaand blitsvinnig gereageer en bystand gelewer nadat ’n boer, Harm Bonnema (71), vier keer deur drie aanvallers op sy plaas naby Marble Hall geskiet is.

Bonnema is Maandag kort ná 19:00 uit na sy bakkie op die plaaswerf om ’n sleutel te gaan haal toe drie aanvallers op hom toegesak het. Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is Bonnema in die bors, arm, bobeen en kuit geskiet.

Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die Noordstreek, sê die burgerregte-organisasie is deur hul plaaslike veiligheidstrukture van die aanval in kennis gestel, waarna hulle dadelik mediese hulp na die toneel ontbied het.

Bonnema is met ʼn Netcare 911-ambulans na Groblersdal gehaas en van daar af per helikopter na Milparkhospitaal in Johannesburg vervoer vir dringende mediese behandeling. AfriForum Trauma gaan ook bystand aan die familie verleen.

Luidens mediaberigte het hy skade aan ’n aar in sy arm, waar hy geskiet is, opgedoen en senuwees in sy een bobeen is ook deur ’n koeël beskadig.

Volgens Bonnema se vrou, Susan, is hy tans positief, maar steeds in baie pyn. Hy gaan môre weer geopereer word. Daar is niks tydens die aanval gesteel nie. Die polisie ondersoek tans ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Ons moedig gemeenskappe aan om by AfriForum se plaaslike veiligheidstrukture in te skakel en ons doen verder ’n beroep op gemeenskappe om ten alle tye paraat te wees en sover moontlik hul veiligheid te prioritiseer,” sê Coetzer.

Soortgelyke plasings