|

AfriForum se Malmesbury-tak prys Highlands-vullisterrein vir uitstekende afvalbestuur en diens

Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 18 Julie 2019 welverdiende erkenning aan werknemers van die Highlands-vullisterrein buite Malmesbury gegee vir hulle uitstekende bestuur van dié terrein.

Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het alle werknemers van die terrein bedank vir hul bydrae tot die terrein se sukses. Brad Theron, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje by AfriForum se Malmesbury-tak, het ook ’n sertifikaat aan Gerhard Havenga, bestuurder van die terrein, oorhandig. Die Malmesbury-tak het al die werknemers met ’n geskenkpakkie van eet- en drinkgoed beloon.

Hierdie erkenning volg ná AfriForum in Februarie 2019 ’n nasionale vullisterreinoudit van stapel gestuur het en waaraan al 140 takke van dié burgerregtewaghond deelgeneem het. Drie vullisterreine in die Wes-Kaap het uitsonderlike prestasies behaal, waarvan die Highlands-vullisterrein een is.

“Ons is bevoorreg om in ’n provinsie te woon waar meeste dienslewering geprys kan word, eerder as om bloot oor swak diens te kla. Ons vertrou dat die vullisterreine in die Wes-Kaap wat nie tydens die oudit aan die wetlike vereistes voldoen het nie, daarna sal streef om in terreine soos die Highlands-vullisterrein se voetspore te volg,” sê De Jager.

Raak vandag nog by AfriForum se Malmesbury-tak betrokke: SMS “Malmesbury” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings