AfriForum se lugsteun werp vrugte af


AfriForum se gemeenskapsveiligheidseenheid van die Bo-Karoo is op 17 Mei 2019 omstreeks 03:20 versoek om bystand in Strydenburg te bied nadat vermeende diefstal van sonpanele en selfoontorings se batterye in dié gebied plaasgevind het.

Die gemeenskapsveiligheidseenheid het onmiddellik hul lugsteun – ’n hommeltuig met nagvisie – ontplooi om die gebied te fynkam. Ná meer as twee ure is beweging met die hommeltuig opgemerk en sowel  spanne van die gemeenskap as die SAPD kon by die toneel aansluit en hulp verleen. Weens die aard van die omgewing was die terrein egter moeilik toeganklik.
Ná 06:00 het spoorsnyers van ’n omliggende wildsplaas by die soektog aangesluit en bepaal dat die verdagtes in die rigting van die N12 beweeg. Later het ’n privaat helikopter die soektog by die hommeltuig oorgeneem en die verdagtes vanuit die lug waargeneem. Die helikopter het twee polisiebeamptes opgelaai en naby twee van die verdagtes geland, waarna die SAPD die arrestasies kon uitvoer. Nóg ’n verdagte is later in hegtenis geneem.

“Die sukses van die operasie is beslis te danke aan die goeie samewerking tussen verskeie veiligheidsinstellings en die SAPD. Die onmisbare rol van die lugsteunkomponent is weer eens vandag bewys. Ons het groot dank vir die SAPD en die gemeenskap wat betrokke was,” sê André Coetsee, AfriForum se streekskoördineerder van gemeenskapsveiligheid vir die Bo-Karoo.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-veiligheidstruktuur betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings