|

AfriForum se Lichtenburg-tak verwelkom besluit oor vullisterrein

Die AfriForum-tak in Lichtenburg verwelkom die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit se aankondiging dat hulle dié dorp se vullisterrein gaan skoonmaak. Dít volg nadat AfriForum druk op die munisipaliteit toegepas het en op 29 Junie 2020 ’n skrywe aan die munisipaliteit gestuur het oor die toestand van die terrein.

Talle inwoners en ondernemings in Lichtenburg het by die plaaslike AfriForum-tak oor die vullisterrein gekla. Toegang tot die terrein word belemmer deur vullis wat die ingang blokkeer en rook hang gedurig in die lug weens vullis wat onwettig gebrand word. Die Lichtenburg-tak het die vullisterrein ook vroeër vanjaar geoudit waartydens die vullisterrein ’n halwe punt uit 25 behaal het.

“Ná afloop van die vullisterreinoudit het ons ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig en hulle gemaan om aandag aan die vullisterrein te gee aangesien dit nie net ontoeganklik is nie, maar ook groot gesondheids- en omgewingsrisiko’s veroorsaak. Die munisipaliteit het op 8 Julie 2020 aangekondig dat hulle die vullisterrein gaan opruim,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die takbestuur beplan om die opruimingswerk te moniteer en die munisipaliteit by hul belofte hou. Volgens die bestuur is hierdie ’n bewys dat volgehoue druk op munisipaliteite wel vrugte kan afwerp. “Munisipaliteite het ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskappe wat hulle dien en ons moet nie huiwer om ons stemme dik te maak indien hulle versuim om dienste te lewer nie,” sê Coetzee.

Raak betrokke by dié tak en word deel van die verskil: SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings