|

AfriForum se Lichtenburg-tak herstel slaggate rondom Laerskool Lichtenburg

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het op 12 Februarie 2020 in samewerking met die Laerskool Lichtenburg ’n slaggatherstelprojek afgeskop wat ten doel het om slaggate in die strate rondom die skool te herstel. Die projek is aangepak nadat personeel en ouers wat dié strate daagliks gebruik gefrustreerd was met die toestand daarvan. Slaggate in Buchanan-, Republiek- en Greeffstraat is gevolglik herstel.

“Die strate rondom die skool wat daagliks gebruik word is in ’n haglike toestand, wat veroorsaak dat voertuie beskadig word. AfriForum kon nie net staan en toekyk hoe die munisipaliteit versuim om ’n basiese diens aan die gemeenskap te lewer nie en het daarom besluit om dié projek aan te pak,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens die takbestuur is die projek daarop gefokus om veiligheid op die paaie, veral in gebiede waar kinders vervoer word, te verseker. Hoewel die projek fokus op gebiede waar skole geleë is, baat die hele gemeenskap by die verbetering van die paaie. AfriForum sien daarna uit om meer van hierdie soort selfdoenprojekte ook saam met ander skole in Lichtenburg van stapel te stuur en sodoende die gemeenskap by te staan.

“Ons wil graag die gemeenskap bedank vir hul bydraes tydens die projek. Die Laerskool Lichtenburg het ’n groot bydrae gelewer deur arbeid te voorsien en ’n finansiële bydrae te maak. Dankie ook aan al die AfriForum-lede in Lichtenburg wat dit alles moontlik maak met hul maandelikse bydraes. Sonder julle ondersteuning sal ons dit nie kan doen nie,” sê Coetzee.

Raak vandag nog by AfriForum se Lichtenburg-tak betrokke om selfs ’n groter verskil in die dorp te maak. Bel vir Stefan Niemand by 082 212 1588 of SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1) vir meer inligting oor die tak, asook om uit te vind hoe om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings