AfriForum se Lichtenburg-tak en Burgersdorp Laerskool knap straat en parkeerarea op


AfriForum se Lichtenburg-tak het vanjaar al behoorlik moue opgerol en hul tweede skoolverfaksie is op Donderdag 13 Junie 2019 voltooi. Laerskool Burgersdorp het saam met die tak gewerk en hulle het die randstene, parkeerarea, twee spoedhobbels en ’n voetoorgang in die besige Hendrik Potgieterstraat geverf en opgeknap.

“Wilhelm Steenkamp, hoof van Laerskool Burgersdorp, was baie positief en dankbaar dat die leerders deel van hierdie geleentheid kon wees. Die gr. 5- tot 7-klasse het gehelp verf en sodoende hul kwartaal op ’n goeie manier afgesluit. Die leerders het dit baie geniet en was van 09:00 tot 13:30 fluks besig. AfriForum se Lichtenburg-tak daag nog skole en ondernemings uit om deel te word van ons verfaksies. Saam kan ons ’n verskil maak; selfdoen bly altyd beter as niksdoen,” sê Gerhard Nieuwoudt, Jeugvoorsitter van die Lichtenburg-tak.
“AfriForum wil almal wat met die projek gehelp het hartlik bedank en nooi die Lichtenburg-gemeenskap uit om by hierdie selfdoenaksies betrokke te raak. Ons beoog om nog heelwat verfprojekte saam met skole en ondernemings in die gemeenskap aan te pak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico.

Soortgelyke plasings