|

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag verleen hulp ná noodroep

Lede van AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag in Bloemfontein het op 11 Julie 2020 vinnig gereageer nadat hulle ’n noodroep van ’n huis wat brand via die buurtwag se WhatsApp-groep ontvang het.

AfriForum se Bloemfontein-beheerkamer is dadelik in kennis gestel en die brandweer is ontbied. Die Langenhovenpark-patrollielede was binne minute by die huis en het die toneel saam met CAM-sekuriteit beveilig en die straat afgesper sodat die nooddienste makliker toegang kon kry tot die toneel.

Een van die AfriForum-patrolleerders het die Mangaung-brandweerdienste op die hoofpad gekry en na die toneel begelei. Mediese nooddienste is ook ontbied en geen beserings is aangemeld nie. Die brand is binne minute geblus en die toneel is veilig verklaar.

“Ek is bly ons kan ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak en ons help graag waar ons kan, ” sê mnr. Strydom, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Langenhovenpark-tak.

“Dit is wonderlik dat AfriForum se buurtwagte in Bloemfontein ’n uitstekende verhouding met ’n netwerk van sekuriteitsmaatskappye, nooddienste en buurtwagte het. Dit bied ons die geleentheid om vinnig op noodroepe te kan reageer en die regte hulpbronne te ontbied,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Raak vandag nog by AfriForum se strukture in Bloemfontein betrokke: SMS “AfriForum” na 45266 (R1).

Soortgelyke plasings