|

AfriForum se Laeveld-takke spog met nuwe brandbesrydingstoerusting

AfriForum se Laeveld-takke het oor die afgelope maand nuwe brandbestrydingstoerusting ontvang. Dié toerusting is aan die Cairn Burnside-plaaswag buite Nelspruit en die Witrivier- en Machadodorp-buurtwagte geskenk.

“Hierdie toerusting gaan ons help om wegholbrande in die Cairn-vallei te stuit,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.

Die toerusting word hoofsaaklik gebruik om gevaarlike brande te blus, maar kan ook gebruik word om water in tye van nood te versprei.

“Ons het in hierdie brandseisoen verskeie mense se eiendomme help beskerm, maar met ons eie toerusting het kan ons die diens net meer doeltreffend lewer en groter skade help voorkom,” sê Joe Pelser, voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag.

Machadodorp se buurtwag het slegs vyf dae ná hul die toerusting ontvang het, reeds daarvan gebruik gemaak toe die dorp se waterpompe buite werking was.

“Die brandbestrydingstoerusting is vir die Machadodorp-gemeenskap van onskatbare waarde omdat daar nie meer voldoende brandbestrydingsdienste in ons dorp beskikbaar is nie. Boonop kan ons ook mense met basiese dienste soos water bystaan as die nood druk,” sê Henrico Duvenhage, voorsitter van AfriForum se Machadodorp-tak.

Soortgelyke plasings