| |

AfriForum se Laeveld-takke skenk handreiniger en gesigmaskers

Die AfriForum-takke in die Laeveld het gedurende April 2020 ’n groot aantal handreiniger en gesigmaskers aan verskeie organisasies geskenk om hulle teen die opdoen van COVID-19 te help beskerm.

Op 16 April het die Witrivier-tak voorraad aan die SAVF Rustig-ouetehuis geskenk.

Die Machadodorp-tak het op 17 April handreiniger en gesigmaskers aan die SAVF Silverdae-tehuis geskenk. Die takke in Lydenburg en Dullstroom het voorraad aan die Step-Up Foundation, Wings of Gratitude NPO, die Rusoord-tehuis in Lydenburg, die Graskop-kinderhuis en die Epilepsie SA-sentrum in Dullstroom geskenk. Die Middelburg-tak het skenkings aan die SAVF-tehuis en plaaslike SAPD gemaak, terwyl die Bethal-tak voorraad aan die SAVF Silwerjare-tehuis geskenk het.

Op 21 April het die Nelspruit-tak handreiniger en gesigmaskers by die Hospice in Nelspruit, asook by die Nelspruit Community Forum en die CMR in Nelspruit afgelewer.

Dié skenkings volg nadat die burgerregteorganisasie die afgelope maand ’n nasionale projek van stapel gestuur het waartydens 15 000 bottels handreiniger aan verskeie polisiestasies, nooddienste en ouetehuise geskenk is. AfriForum het op 15 April 2020 ’n verdere 4 000 bottels handreiniger en 3 200 gesigmaskers na sy 53 takke in die noordstreek versprei om gemeenskappe te ondersteun.

“Bejaardes het spesiale sorg nodig, wat beteken dat hierdie organisasies juis meer beskermingsvoorraad benodig. Ons wil die personeel van organisasies in die Laeveld in staat stel om hul belangrike werk voort te sit en dit veilig te kan doen,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om die organisasie se Facebook-blad gereeld te besoek om die nuutste inligting oor die staat van inperking en COVID-19 te kry.

Raak vandag nog by AfriForum se Laeveld-takke betrokke en wees deel van die verskil: SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings