AfriForum se Kuruman-tak loods twee belangrike projekte in Meimaand

Die AfriForum-tak in Kuruman het die afgelope maand twee projekte aangepak wat tot voordeel van die dorp en sy inwoners strek. ’n Waarskuwingstelsel teen kragonderbrekings is by waterpompe geïnstalleer, terwyl bebosde gebiede ook skoongemaak is.

Aangesien inwoners gereeld sonder water gelaat word weens kragonderbrekings wat slegs by waterpompe voorkom, het AfriForum ’n stelsel aangekoop wat ’n SMS stuur indien die elektrisiteit by waterpompe af is. Die nuwe stelsel gaan egter eers by een van die pompstasies getoets word en indien dit suksesvol blyk te wees, sal dit ook by die ander stasies geïnstalleer word.

AfriForum Jeug het op sy beurt ’n inisiatief geloods om gedurende die naweek van 20 Mei bebosde gebiede in die dorp skoon te maak waar jongmense gereeld aangeval en beroof word. Coastal Hire het nie net werkers beskikbaar gestel nie, maar ook ’n spesiale prys toegestaan vir die huur van bossiekappers wat gebruik is om die gebiede skoon te maak. Die onmiddellike omgewing in en om Kareelaan, Kalaharistraat en Fonteinstraat is eerste aangepak. Ander gebiede in die dorp sal later skoongemaak word.

“Ons lede maak ons sterk; hoe meer lede ons het, hoe meer kan ons doen om omstandighede in die dorp vir almal te verbeter. Die tyd vir wag is verby en selfdoen is beter as niksdoen,” sê Pieter Serfontein, voorsitter van die AfriForum-tak in Kuruman.

Soortgelyke plasings