AfriForum se Kuruman-buurtwag oorhandig tweerigtingradio’s aan skole


Die AfriForum-buurtwag in Kuruman het vroeër vandeesmaand tweerigtingradio’s aan verskeie skole in dié dorp oorhandig.

“Ons kinders en onderwysers se veiligheid moet opgeskerp word – dit is ’n landwye probleem en ’n noodsituasie by ’n skool kan so onverwags plaasvind. Die tweerigtingradio’s maak kommunikasie maklik en vinnig en word 24 uur per dag deur NKS Sekuriteitsdienste se beheerkamer gemoniteer. Ons gaan ook tweerigtingradio’s aan ons plaaslike ouetehuis beskikbaar stel. Dit is belangrik om proaktief in ons gemeenskap op te tree en die nodige maatreëls in plek te hê,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
“AfriForum is tans besig om strukture te skep en te versterk wat gemik is op die voorkoming van geweldmisdaad in sowel dorpe as op plase. Ons moedig ook die gemeenskap aan om by ons buurtwag in te skakel. Elke bietjie hulp dra by tot ons gemeenskap se veiligheid,” sê Paul Marais, voorsitter van AfriForum se Kuruman-buurtwag.

Raak vandag nog by AfriForum se Kuruman-buurtwag betrokke: SMS “Kuruman” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings