AfriForum se Kuruman-buurtwag hou OCAL Global-drawwers veilig


Drawwers van die OCAL Global-groep het op 11 Mei 2019 deur Kuruman gedraf vir liefdadigheid. AfriForum se Kuruman-buurtwag het die drawwers deur die nag vergesel en seker gemaak dat hulle die roete veilig voltooi.

Volgens OCAL Global se webtuiste is dié wedloop deel van hul Journey for Change-inisiatief – ’n ongelooflike 24 uur reis wat ’n afstand van 2 200 km dek en oor ’n tydperk van tien dae strek. Die drawwers het in Pretoria weggespring, waarna die roete hulle deur die Kalahari, verby die Namibië-grens en uiteindelik verby die Cederberge in die Wes-Kaap sal neem. Die reis eindig op 19 Mei 2019 by die beginpunt van die FNB 12 OneRun in Kaapstad. Die doel van dié inisiatief is om die persepsie rondom gestremdheid uit te daag en te verander en hierdie jaar samel die drawwers ook fondse in vir liggaamlik gestremde kinders in die Noord-Kaap.

“Ons is altyd bereidwillig en gereed om ons dorp ’n veiliger plek te maak. Dit sal jammer wees as wonderlike inisiatiewe soos dié weens misdaad in die kollig beland – daarom het ons besluit om die drawwers te ondersteun en te help waar ons kan,” sê Paul Marais, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Kuruman-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings