|

AfriForum se Kuruman-buurtwag help om ontsnapte gevangene vas te trek

Die AfriForum-buurtwag in Kuruman het in samewerking met verskeie ander rolspelers op 3 September 2019 ’n gevangene wat uit die landdroshof in Kuruman ontsnap het, vasgetrek. Die gevangene het op 2 September 2019 omstreeks 09:30 uit die landdroshof ontsnap nadat sy boeie losgemaak is vir sy verskyning. Hy het blitsig ontsnap en rolspelers is in kennis gestel om op die uitkyk vir hom te wees.

Nadat die gevangene die hofgebou verlaat het, het hy na die taxiterminus gegaan, ander klere aangetrek en weggehardloop. Aangesien dié gevangene ’n bekende misdadiger is, kon die buurtwag, NKS Sekuriteit en die departement van korrektiewe dienste verskeie leidrade opvolg.

Die ontsnapte is die volgende dag opgespoor waar hy in ’n buitetoilet van ’n ou gebou weggekruip het. Hy is onmiddellik deur buurtwaglede, NKS Sekuriteit en die departement van korrektiewe dienste gearresteer.

Die ontsnapte staar twee aanklagte van huisbraak, asook ’n klag van minagting van die hof in die gesig.

“Ons is altyd gereed om bystand te bied. Die samewerking op dié spesifieke voorval was uitstekend en ons kon die vlugteling vinnig vastrek,” sê Paul Marais, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Kuruman-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings