AfriForum se Kraaifontein-buurtwag: ’n doring in misdadigers se vlees


AfriForum se Kraaifontein-buurtwag het tydens Novembermaand verskeie verdagtes vasgetrek.
Tydens die afgelope drie weke het die buurtwag twee verdagtes in afsonderlike gevalle aangekeer vir onderskeidelik die besit van gesteelde eiendom, en poging tot diefstal en betreding. Daar is ook ’n lasbrief uitgereik vir die arrestasie van een van hierdie verdagtes weens minagting van die hof. Beide verdagtes is aan die SAPD oorhandig.
Op Vrydag 17 November het die buurtwag twee winkeldiefstalverdagtes op Laerskool Aristea se gronde gevang nadat hulle probeer weghardloop het.
Die buurtwag se reaksiespan het ook hulp verleen aan die Joostenberg Vlakte-buurtwag en die SAPD nadat ’n plaaswerker deur drie mans beroof is. Al drie die vermeende rowers is gevang nadat hulle in ’n nabygeleë veld probeer wegkruip het.
In ’n ander geval op 10 November het dié buurtwag die SAPD bygestaan met die vaskeer van vier verdagtes in Kraaifontein nadat die verdagtes ’n MTN-winkel in Durbanville beroof het. Die SAPD en die verdagtes het op mekaar geskiet en ’n polisiebeampte is tydens dié voorval beseer.

“Geïntrigeerde samewerking tussen die gemeenskap en die SAPD in die bekamping van misdaad is van kardinale belang. Die SAPD het die gemeenskap se hulp nodig, veral tydens die feesseisoen wat voorlê. Ons moedig die publiek aan om by veiligheidstrukture betrokke te raak en self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streeks- veiligheidskoördineerder vir die Wes-Kaap.

Enige persoon wat by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke wil raak, kan die woord “Veilig” na 45353 SMS (R1).

Soortgelyke plasings