AfriForum se Knak Korrupsie-opleidingsveldtog van stapel gestuur


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Knak Korrupsie-opleidingsveldtog is vandag in Gauteng geloods. Dít volg nadat AfriForum se teenkorrupsie-eenheid na plaaslike vlak uitgebrei het om korrupsie hiér te ontbloot. In die volgende paar maande gaan adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslike korrupsie, takstrukture in al die provinsies besoek om opleiding in dié verband aan te bied.
Adv. Nel gaan prakties verduidelik wat korrupsie behels en hoe dit aan die kaak gestel kan word. Hy gaan onder meer fokus op die rol wat faktore soos goeie ondersoekwerk, gewone en deskundige getuies, dokumentasie, fluitjieblasers en tegnologie (soos selfone en rekenaars) in die proses speel om korrupsie te ondersoek en uiteindelik te ontbloot.
Adv. Nel se aanbieding sal ook verduidelik dat korrupsie nie slegs neerkom op die verwisseling van geld tussen individue met die doel dat beide partye onregmatig daardeur bevoordeel word nie; enige handeling wat daartoe kan lei dat ’n korrupte verhouding ontstaan, dui op korrupsie.

“Korrupsie raak almal in die gemeenskap en die bekamping daarvan begin by elke individu. Enigiemand met inligting oor korrupte optrede het ’n verantwoordelikheid om ’n klag by die SAPD in te dien of die spreekwoordelike fluitjie te blaas. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers te beskerm wat met inligting oor korrupsie vorendag kom,” sê Swanepoel.

Is jy bewus van korrupsie in jou dorp, maar vrees viktimisasie? AfriForum bied beskerming vir fluitjieblasers. SMS jou dorp se naam na 32782 om ’n verskil te maak (R1).

Soortgelyke plasings