|

AfriForum se Kempton Park-tak kyk terug na 2019 se suksesse

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kempton Park-takbestuur het op 16 Oktober 2019 hul algemene jaarvergadering (AJV) by die N.G. Kerk in Birchleigh gehou. Die vergadering is deur ongeveer 40 mense bygewoon en die takbestuur het terugvoer gegee oor wat in 2019 bereik is, asook wat die tak vir die res

van die jaar en 2020 beplan.

Hieronder is ’n aantal hoogtepunte wat tydens die vergadering uitgelig is:

  • Die tak se ledetal het die 800-kerf bereik.
  • Die buurtwag het bystand gebied by meer as 70 voorvalle wat arrestasies, dwelmhandel en motorongelukke insluit.
  • Die tak het ’n dubbelkajuitbakkie aangekoop om kapasiteit te vergroot.
  • Die tak het ’n kantoor in Soutpansweg geopen met die doel om dit later ook as ’n gemeenskapsbeheerkamer te vestig.
  • Die tak se herwinningsprojek het van een na drie gebiede uitgebrei.
  • Die tak se jeugvleuel het ’n uilhuisprojek van stapel gestuur; ses uilhuise vorm tans deel van die projek.
  • Die tak het agt projekte suksesvol in 2019 voltooi.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, was die gasspreker en het met die gehoor gesels oor onwettige boubedrywighede en huurders op privaat eiendom, asook die bestaansreg van AfriForum se buurtwagte binne die Grondwet.

Die vakante portefeuljes in die tak is ook tydens die vergadering aan die gemeenskap oopgestel en na afloop daarvan gevul.

“AfriForum se Kempton Park-tak word vandeesmaand vyf jaar oud en dit is vir ons ’n groot voorreg om deel te kon wees van die stigting en groei van die tak. Ons is bevoorreg om ’n uiters sterk en bekwame bestuurspan te hê waarsonder al hierdie veranderinge nie moontlik sou wees nie. Hierdie suksesstorie is die gevolg van positiewe én negatiewe dae, baie geduld en baie tyd. Ons sal nie moeg word nie en vra die gemeenskap om ons te ondersteun deur self by die tak en sy talle aktiwiteite betrokke te raak,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Kempton Park-tak: SMS “Kempton Park” na 45342 (R1) of stuur ’n e-pos na kemptonadmin@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings