AfriForum se Kempton Park-buurtwag staan gemeenskap by


Die AfriForum-buurtwag in Kempton Park het gedurende Maartmaand bystand by verskeie tonele gebied in samewerking met die SAPD, sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers in die veiligheids- en sekuriteitsindustrie.

  • Op 15 Maart het die buurtwag bystand aan die SAPD gebied met die arrestasie van ’n man vir die vermeende aanranding van ’n minderjarige.
  • Die buurtwag het op 16 Maart bystand aan SSS Sekuriteit verleen tydens ’n gewapende roof waar drie verdagtes gearresteer en aan die SAPD oorhandig is.
  • Op 22 Maart het die buurtwag ’n bewusmakingsaksie in samewerking met die SAPD en AfriForum se Edenvale-buurtwag gehou waartydens ’n verdagte wat in besit van dwelms was, gearresteer is.
  • Die buurtwag het op 23 Maart ’n vermeende inbreker in Rhodesfield vasgetrek. Hy is gearresteer en aan die SAPD oorhandig.
  • Op 25 Maart het die buurtwag ’n oproep ontvang in verband met ’n skietvoorval in Birchleigh. Dirk Venter, buurtwagvoorsitter, is na die toneel ontbied waar hy ’n man met ’n skietwond in die mond gevind het. ER24 is onmiddellik gekontak waarna hulle mediese hulp verleen en die man na die hospitaal vervoer het. AfriForum-buurtwaglede het bystand gebied deur die kruispaaie te beveilig sodat die ambulans deur die verkeer kon ry.

“Dit is voorwaar uitstekende voorbeelde van gemeenskapslede wat self daad by die woord voeg en proaktief misdaad bekamp en die gemeenskap bystaan. Ons sal in samewerking met die SAPD voortgaan om ons gemeenskap te beveilig. Gemeenskapsbetrokkenheid speel egter ’n groot rol in Kempton Park en ons moedig die publiek aan om by bestaande strukture betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak,” se Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke en help sodoende om jou omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings