| |

AfriForum se Kempton Park-buurtwag bied hulp in verskeie gevalle

AfriForum se Kempton Park-buurtwag het in Julie op 15 voorvalle gereageer en in samewerking met die SAPD en sekuriteitsmaatskappye aan verskeie klopjagte deelgeneem. Daar is onder meer op onwettige ammunisie en dwelms beslag gelê, en 10 vermeende verdagtes is gearresteer.

Die buurtwag het ook suksesvol aan die volgende aksies deelgeneem:

  • ’n Klopjag in samewerking met die SAPD en verskeie veiligheidsorganisasies, waartydens onwettige ammunisie en dwelms gevind is;
  • Hulp aan ’n Birchleigh-inwoner deur mediese dienste na die woning te ontbied;
  • Misdaadtoneelopleiding saam met die SAPD;
  • Hulp om ’n kaping te voorkom;
  • Hulp tydens ’n voorval van huishoudelike geweld, wat aan die SAPD oorhandig is;
  • Hulp aan die DBV om ’n hond te verwyder wat ’n persoon gebyt het;
  • Hulp aan Alpha-sekuriteit tydens ’n huisbraak;
  • Hulp by ’n ongelukstoneel;
  • Hulp aan kompleksinwoners nadat ’n voertuig se wiele gesteel is, asook met die installering van ’n elektriese heining met 24 uur-monitering;
  • Hulp tydens die uitreik van boetes deur die SAPD en Ekurhuleni-metropolisie aan winkels wat operasionele ure oorskry;
  • Sigbaarheidspatrollies in die area as deel van die buurtwag se proaktiewe benadering tot gemeenskapsveiligheid;
  • Klopjagte in samewerking met die SAPD, die Ekurhuleni-metropolisie, gemeenskappolisiëringsforums (GPF’s) en verskeie sekuriteitsmaatskappye, waartydens vier mense gearresteer is;
  • Hulp tydens SAPD-operasies, waartydens onwettige wapens en dwelms gekonfiskeer is en een persoon gearresteer is; en
  • ’n Operasie in samewerking met AfriForum se Edenvale-tak, die SAPD, ’n GPF en ’n sekuriteitsmaatskappye, waartydens vyf mense gearresteer is en daar op onwettige wapens beslag gelê is.

Volgens Jan Vermaak, AfriForum se Kempton Park-takvoorsitter, is dit belangrik om aktief en sigbaar in die gemeenskap te wees om kriminele elemente uit die gebied te dryf. “Ons het al telkemale gesien dat kriminele elemente heeltemal verdryf word uit gebiede waar die gemeenskap saamwerk en sigbaar is om misdaad te bekamp. Ons is verantwoordelik vir ons eie veiligheid en kan dit bereik deur op ’n gemeenskaplike doel te fokus.”

Dirk Venter, AfriForum se Kempton Park-buurtwagvoorsitter, sê dat gemeenskapsbetrokkenheid ’n groot rol in Kempton Park speel en dat mense aan die bestaande strukture moet deelneem om só ’n daadwerklike verskil te maak. “Ons moedig die inwoners van Kempton Park en omliggende gebiede aan om betrokke te raak en ons te help om gemeenskapsveiligheid te bevorder.”

Raak betrokke en sluit by die buurtwag aan deur die woord “veiligheid” na 45342 (R1) te SMS, of afriforum.kemp@gmail.com te e-pos.

Soortgelyke plasings