AfriForum se Kathu-tak: Munisipaliteit moet skuld bekend maak


AfriForum se Kathu-tak het gister ’n aansoek in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wet no. 2 van 2000) (PAIA) gebring om te probeer vasstel wat die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit se skuld aan Eskom en Sedibeng Water beloop. Dít volg nadat Eskom dié dorp se krag wil afsit en Sedibeng Water die watertoevoer wou staak.
Die munisipaliteit het 30 dae om op die aansoek te reageer. As hulle dit nie doen nie, moet die munisipaliteit skriftelike redes vir die weiering verskaf.

“AfriForum sal ook vir Sylvia Lucas, premier van die Noord-Kaap, betrek as die munisipaliteit steeds die inligting weerhou. AfriForum het twee weke gelede óók ’n PAIA-aansoek gebring om die munisipaliteit se finansiële state te bekom. Ons wil bepaal of die begroting na behore gevolg word,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap. Die publiek is ontevrede omdat hulle getrou hul rekenings betaal, maar steeds aan die kortste end trek.
“Ons gaan ook die klagtes van die publiek na die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) neem sodat hulle verdere ondersoek kan instel. Ander maniere word ook ondersoek om ingryping by die munisipaliteit te bewerkstellig, want ons kan nie langer toelaat dat swak dienslewering en wanbesteding aan die orde van die dag is nie,” sê Louw.

Gee aan AfriForum se Kathu-tak die mandaat om die munisipaliteit aan te vat. SMS “Kathu” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings