AfriForum se Kaapstad-Noord-tak skep hoop op verskeie maniere


AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het in Mei 2019 op verskeie maniere hoop geskep deur inisiatief te neem en in samewerking met ander organisasies hul omgewing te bewaar en te beveilig.

AfriForum se Bellville-buurtwag, wat deel van die Kaapstad-Noord-takstruktuur vorm, het op 17 en 18 Mei aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Verskeie ander rolspelers het saam met die buurtwag aan hierdie patrollie deelgeneem, waaronder sekuriteitsmaatskappye, verskeie ander buurtwagte en die SAPD. Die 37 patrolleerders het ongeveer 690 km in Bellville met 23 voertuie afgelê.
Ná afloop van die patrollie het lede van AfriForum se Bellville-buurtwag, in samewerking met Oakdale Watch, die oggend van 18 Mei ’n gedeelte van die Oakdale-buurt in Bellville skoongemaak deur rommel op te tel. Die skoonmaakaksie is deur Oakdale Watch geïnisieer.
Tydens ’n onlangse brand in Oakdale het Johan Fritz, koördineerder van AfriForum se Bellville-buurtwag, ook bystand verleen. Buurtwaglede het vinnig gereageer, nooddienste gekontak en gehelp waar nodig.

“Ons is dankbaar vir ongelooflike samewerking – dit is werklik ’n groep mense wat saamstaan om verandering moontlik te maak. Ons wil graag elke lid van die gemeenskap uitnooi om in hul gemeenskappe betrokke te raak en ’n positiewe verskil te maak”, sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Soortgelyke plasings