AfriForum se Jeffreysbaai-tak help om verkeersdruk te verlig


Die AfriForum-tak in Jeffreysbaai het ’n baanbrekersprojek in samewerking met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit aangepak. Twee T-aansluitings is verbreed en ’n voedingslaan is bygevoeg om die verkeersvloei tot alle inwoners se voordeel te verbeter. Die twee aansluitings ter sprake is waar Koraalstraat en Disalaan onderskeidelik by St. Francisweg aansluit. Dit is welbekend dat Jeffreysbaai se besoekers tydens piekvakansieseisoene die getal inwoners vêr oorskry. Dít plaas die infrastruktuur onder geweldige druk wat allerlei frustrasies teweegbring en die toerismebedryf gevolglik negatief beïnvloed.

Dries du Preez, ’n lid van die Jeffreysbaai-takbestuur en ’n ingenieur en ontwikkelaar van beroep, was aan die stuur van sake by AfriForum se aandeel in hierdie projek. “Meer as ’n jaar se swoeg, sweet en beplanning was uiteindelik die moeite werd. Ons is geweldig trots op die projek.” Die aanvanklike plan was om die vierrigtingstop by die vulstasie in St. Francisweg met ’n verkeersirkel te vervang, maar ongelukkig het die huidige uitleg van die vulstasie se toegangsroetes dit nie moontlik gemaak nie. AfriForum hoop om hierdie probleem ook in die toekoms te takel.

Hattingh Borman, speaker van die Kouga Plaaslike Munisipaliteit, het sy dank namens die raad vir hierdie inisiatief uitgespreek. Hy het genoem dat samewerking met AfriForum se Jeffreysbaai-tak op ’n baie positiewe vlak geskied en dat hulle verlig is dat die projek ten spyte van vele uitdagings – ook op politieke terrein – deurgevoer kon word. AfriForum se Jeffreysbaai-tak en die munisipaliteit het die koste van die projek, wat nagenoeg R340 000 beloop, gedeel.

Danie Fouche, voorsitter van AfriForum se Jeffreysbaai-tak, het die munisipaliteit vir hul positiewe gesindheid bedank. “Ons sien baie daarna uit om ons samewerking in die toekoms tot voordeel van die hele gemeenskap uit te brei.”
Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het ook beide die partye vir hul spanwerk geloof. “Hierdie aksie is ’n toonbeeld van ons toekomsplanne. Samewerking is noodsaaklik om eienaarskap in ons gemeenskappe aan te moedig ten spyte van al die unieke uitdagings wat dit behels. Ons wil die publiek uitnooi om by die organisasie betrokke te raak – saam styg ons bo hedendaagse uitdagings uit om Suid-Afrika werklik ’n beter plek vir ons almal te maak.”

Soortgelyke plasings