Bultfontein-buurtwag help verdagte aankeer


Die AfriForum-buurtwag in Bultfontein het op 29 September gehelp om ’n verdagte aan te keer wat by ’n rooftog by die Shoprite Usave in dié dorp betrokke was.

Die Usave is net voor toemaaktyd deur vyf gewapende mans beroof. Die personeel is in die winkel aangehou en hardhandig behandel, waarna die verdagtes met ’n onbekende bedrag geld gevlug het. AgriSec, wat Usave se sekuriteitsmonitering behartig, het die Bultfontein-buurtwag ontbied om in samewerking met die SAPD die verdagtes agterna te sit. Die verdagtes het skote op die SAPD afgevuur en ontsnap. Een verdagte is later danksy die hulp van ’n plaaslike boer aangekeer en deur die SAPD gearresteer.

“Goeie samewerking deur verskeie rolspelers in Bultfontein het verseker dat een van die verdagtes suksesvol aangekeer is, wat bewys dat ons almal se betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid van kardinale belang is. AfriForum doen daarom ’n beroep op Bultfontein se inwoners om by hul plaaslike buurtwag betrokke te raak en in hul dorp se veiligheid te belê,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die sentraalstreek.

SMS “Buurtwag” na 45353 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings