| |

AfriForum se hofsaak teen Toerismedepartement op 28 April aangehoor

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het vandag ’n bevel gemaak dat AfriForum se dringende hersieningsaansoek teen die Departement van Toerisme se gebruik van ras as maatstaf vir die toekenning van COVID-19-hulp aan toerisme-ondernemings, wat vandag gebring sou word, nou op 28 April aangehoor moet word. Die bevel bepaal verder dat die Departement onderneem dat geen besluite rakende die toekenning van hulp gemaak sal word voordat die hof ’n beslissing daaroor gemaak het nie.

Dié bevel van die hof is geskoei op ’n ooreenkoms wat gister laatmiddag tussen AfriForum en die Departement bereik is. Dié partye het ook ooreengekom dat AfriForum se aansoek op 28 April saam met ’n soortgelyke aansoek van Solidariteit aangehoor sal word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die Departement se onderneming verwelkom om besluite oor die rasgedrewe COVID-19-hulpprogram op ys te plaas hangende ’n hofuitspraak. Volgens Kriel is dit ook ’n positiewe verwikkeling dat AfriForum en Solidariteit se aansoeke nou saam aangehoor gaan word.

“Dit is belangrik dat die hof sien dat sowel werknemers as besigheidseienaars nadelig deur rassemaatstawwe in COVID-19-hulp geraak sal word. AfriForum en Solidariteit se aansoeke sal sorg dat beide hierdie perspektiewe voor die hof geplaas sal word.”

AfriForum het reeds op 7 April 2020 vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, asook die Departement op terme geplaas oor SEB- en ander vereistes. Volgens Kriel het die Minister en Departement nie op AfriForum se skrywe gereageer nie en het AfriForum nou geen ander keuse as om die howe te nader nie.

In die hofstukke versoek AfriForum dat die aansoek op ’n dringende basis hanteer word, aangesien die Toerismedepartement nou reeds op ’n weeklikse basis wil begin besluit watter toerisme-ondernemings gehelp sal word. Dié hulpfonds bevat tans R200 miljoen. AfriForum het ook verskeie gevallestudies by die hofstukke ingesluit van ondernemings wat deur hierdie arbitrêre vereistes benadeel word.

Volgens Kriel is dit skandalig dat die regering, in ’n tyd waar almal in die land saam teen COVID-19 as gemeenskaplike vyand behoort te staan, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ’n rasse-agenda te bevorder. Kriel het daarop gewys dat die Departement se rassevereistes op onbillike diskriminasie neerkom en daarom ongrondwetlik is.

“Die uitgesproke doel van die Departement se fonds is om bystand aan toerisme-ondernemings te gee wat nadelig deur COVID-19 geraak word. Aangesien almal, ongeag hulle ras, nadelig deur COVID-19 geraak word, kan die Departement nie Artikel 9(2) van die Grondwet, wat regstelling van diskriminasie uit die verlede regverdig, gebruik om diskriminerende hulpverlening teen die gevolge van COVID-19 te regverdig nie.”

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.

Soortgelyke plasings