AfriForum se Hessekwa-tak stel Bakkie Sakkie bekend


AfriForum se Hessekwa-tak het op Maandag 4 Februarie 2019, op uitnodiging van die plaaslike gemeenskappolisiëringsforum (GPF), ’n gemeenskapvergadering bygewoon.

Tydens dié vergadering het Johan Crous, veiligheidsbeampte vir die Hessekwa-takbestuur, ’n voorlegging gedoen oor die belangrike rol wat die gemeenskap in hul eie beveiliging speel, asook die groot rol van AfriForum se veiligheidstrukture. “Met 132 buurtwagte en 8 000 nasionale lede is AfriForum se veiligheidstrukture werklik bekwaam om die gemeenskap te ondersteun,” het Crous die gemeenskap verseker.

Voor die vergadering het Evert Bouwer en Kosie Sauermann van die Hessekwa-tak hul nuwe Bakkie Sakkie aan die gemeenskap bekend gestel. Dié Bakkie Sakkie word vir brandbestryding, spesifiek in die Gouritsmond- en Albertinia-gebiede, aangewend.

“Ons het almal ’n sosiale verantwoordelikheid wat by ons binnekring begin. AfriForum se Hessekwa-tak aanvaar hierdie uitdaging en het reeds tydens verskeie veiligheidsinisiatiewe en hul betrokkenheid by die onlangse brande bewys dat hulle oor die wil en dryf beskik om die hele gemeenskap suksesvol en met trots te dien. Ons bedank ook alle rolspelers, insluitend die SAPD en die plaaslike regering vir die goeie gees van samewerking. Ons wil die publiek uitnooi om deel van die organisasie te word wat bo hedendaagse uitdagings uitstyg en Suid-Afrika werklik ’n beter plek vir ons almal maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder in die Suid-Kaap.

Soortgelyke plasings