AfriForum se Hessekwa-tak ontvang EFAR-opleiding


Ná drie maande se onderhandelings het 21 lede van die buurt- en plaaswag verbonde aan AfriForum se Hessekwa-tak EFAR-opleiding (Engels: Emergency First Aid Responder) ontvang. Dié opleiding, wat daarop gemik is om vrywilligers en gemeenskapslede wat eerste by ongelukstonele opdaag met die kennis toe te rus om beseerde persone te behandel, is op 11 en 12 April 2019 in die saal van die N.G. Kerk Riversdal-Wes aangebied. Dit is ’n reusedeurbraak en gee erkenning aan die mans en vroue van Hessekwa wat goed georganiseerd is en dikwels eerste by ongelukstonele opdaag.

Volgens Johan Crous, voorsitter van die gemeenskapsveiligheidsportefeulje van AfriForum se Hessekwa-tak, is die waarde en moontlikhede om AfriForum se buurt- en plaaswagte tydens ongelukstonele te benut weer eens bevestig tydens ’n onlangse ongeluk op die R305 (wat die N2 en Stilbaai verbind). Lede van AfriForum se plaaswag was eerste op dié toneel en kon nooddienste ontbied en die ongelukstoneel beveilig.

“As AfriForum-tak en -lede het ons soveel positiewe insette om aan ons gemeenskap te bied. Die EFAR-opleiding bemagtig ons om by enige ongelukstoneel op te tree vir beveiliging en om uiteindelik lewens te help red. Oor die verloop van twee dae het ons sowel praktiese as teoretiese eksamens afgelê en sertifikate en identiteitskaarte aan die einde ontvang. Ons is baie trots en dankbaar vir die geleentheid – ons het hard gewerk daarvoor,” sê Crous.
“Ons is baie trots op die Hessekwa-tak. Wat hulle hiermee bereik het, is presies waarvoor AfriForum staan en na strewe – ons is ’n selfdoenorganisasie wat in diens van die hele gemeenskap staan en saam hoop skep. Ons wil die publiek uitnooi om deel te word van AfriForum – saam kan ons bo hedendaagse uitdagings uitstyg en Suid-Afrika werklik ’n beter plek vir ons almal maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Soortgelyke plasings