|

AfriForum se Hartbeespoort-tak bou nuwe sypaadjie

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het op 30 Augustus 2019 fase twee afgehandel van die projek om ’n voetgangerspaadjie in Ou Wapad te bou.

Die gedeelte in fase twee is 70 m lank, terwyl fase een ongeveer 100 m lank was. Hierdie voetpaadjie verbind die Ifafi-woonbuurt met die plaaslike kommersiële sentrum, en inwoners benut dit reeds.

“Dit is baie veiliger en beter om op ’n netjiese sypaadjie te loop as in die pad of in die stof tussen klippe deur. Dié projek dra ook tot die estetiese beeld in Ifafi by, waar AfriForum reeds Vanwykshoute al langs die nuwe paadjie geplant het. Inwoners kan dus weer beter voel as hulle ’n buurt in ’n pragtige, goed versorgde vleilandgebied betree,” sê Fanie Smit, hoof van projekte van AfriForum se Hartbeespoort-tak.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico, is dit ’n riem onder die hart is om te sien hoe dié gemeenskap saamstaan en saamwerk om die omgewing op te knap. “Hierdie projek het ook die nodige grondslag gelê vir toekomstige projekte wat die tak van stapel gaan stuur.”

Soortgelyke plasings