AfriForum se Germiston-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Germiston het vyf bome by Afrikaanse Hoërskool en twee bome by Laerskool Elspark in Germiston geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand.
Volgens Elize Hern, woordvoerder van AfriForum se Germiston-tak, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as net ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Hern.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Germiston onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sluit Hern af.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.
AfriForum bedank graag die Wildflower Nursery vir die skenking van die bome.

Soortgelyke plasings