AfriForum se Germiston-tak hou massaskoonmaakaksie


Die AfriForum-tak in Germiston het die vieslike toestand van hul dorp met ’n skoonmaakaksie teengestaan wat op 18 Mei 2019 in die Primrose-gebied van stapel gestuur is. Dié aksie is deel van ’n reeks projekte wat daarop gemik is om probleme in die dorp self op te los. Die tak het ook die Oaklaan-omgewing oorkant Mini Movers skoongemaak in samewerking met die Voortrekkers se Germiston-tak.

’n Plaaslike kontrakteur het bossies verwyder en gras gesny, terwyl taklede en die Voortrekkers die vullis in die gebied opgetel het.

“Hoewel hierdie aksie nie ’n volhoubare oplossing vir die probleem is nie, is dit steeds verblydend om te sien hoe mense langs die straat stilhou en betrokke wil raak, of bloot net hulle dank teenoor die taklede wil uitspreek,” sê Elize Hern, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.
“Aksies soos hierdie dien as konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself tot ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms moet beywer en self betrokke moet raak om probleme proaktief aan te pak. Die gemeenskap word aangemoedig om by die Germiston-tak se aksies in te skakel,” voeg Hern by.

Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak aan: SMS “Germiston” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings