--> -->
Spyskaart +

AfriForum sê feite toon dat die miskenning van eiendomsreg en plaasmoorde wel ‘n ernstige bedreiging in Suid-Afrika is

Maart 19, 2018 deur Marelie Greeff

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria aangevoer dat die inligting wat dié organisasie tans in die internasionale gemeenskap rakende onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde versprei, gegrond is op feite wat bevestig dat daar wél ‘n ernstige bedreiging van eiendomsreg en menselewens in Suid-Afrika bestaan. Hierdie bedreiging geld veral vir minderheidsgemeenskappe in die algemeen en wit boere in besonder. Tydens die konferensie het AfriForum ook aangedui dat dié organisasie sy internasionale veldtog teen plaasmoorde en die miskenning van eiendomsreg in Suid-Afrika gaan verskerp. AfriForum het die mediakonferensie gehou nadat Lindiwe Sisulu, die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en haar departement verlede week beweer het dat AfriForum paniek in die internasionale gemeenskap saai deur onjuiste inligting te versprei.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Suid-Afrikaanse regering onderskat die internasionale gemeenskap se intelligensie deur voor te gee dat eiendomsreg in Suid-Afrika nie bedreig word nie. Dit is volgens Kriel onbetwisbare feite dat:

·         Die regerende party (die ANC) tydens dié party se nasionale konferensie in Desember 2017, onteiening sonder vergoeding as partybeleid aanvaar het en besluit het dat Suid-Afrika se Grondwet gewysig moet word om dit moontlik te maak.

·         President Cyril Ramaphosa dit by verskeie geleenthede, insluitend tydens ‘n besoek aan koning Goodwill Zwelithini, onderstreep het dat die regering eiendom sonder vergoeding gaan onteien. Ramaphosa se gebruik van die woorde “ons mense” om te verwys na swart mense wat voordeel uit onteiening moet trek, hou die ernstige implikasie in dat hy wit mense nie as deel van “ons mense” sien nie (sien video aangeheg).

·         ‘n Minister in Ramaphosa se kabinet, Gugile Nkwinti (voorheen minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming en nou die minister van water en sanitasie) die uitspraak gemaak het dat: “There is no doubt about it, land shall be expropriated without compensation.”

·         Die Suid-Afrikaanse parlement op 27 Februarie 2018 met 241 stemme teen 81 gestem het ten gunste van ‘n mosie wat die proses begin het om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

“Vir Sisulu om nou gemoedere te probeer kalmeer deur aan te voer dat die Suid-Afrikaanse regering volgens die Grondwet sal optree, bied geen gerusstelling nie, aangesien die ANC juis die Grondwet wil wysig. Ook president Ramaphosa se gerusstelling dat onwettige grondgrype nie geduld sal word nie, bied min troos as in ag geneem word dat die regering bloot van plan is om die skending van eiendomsreg te wettig,” voeg Kriel by.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum: Kommunikasie, dui aan dat plaasmoorde krisisafmetings aanneem. Hierdie krisis is op verskeie vlakke sigbaar, wat die volgende insluit:

·         Volgens die laaste beskikbare polisiestatistieke is meer as 1 700 plaasmoorde en meer as 12 245 plaasaanvalle oor ‘n tydperk van 21 jaar gepleeg. Indien in ag geneem word dat daar vir drie van daardie jare geen syfers met betrekking tot plaasaanvalle bestaan nie, kom dit neer op ‘n gemiddeld van 680 plaasaanvalle en 94 plaasmoorde per jaar. Dit is byna twee plaasaanvalle per dag en twee plaasmoorde per week, oor ‘n tydperk van 18 jaar.

·         Alhoewel geweldsmisdaad onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika ‘n krisis is, is geweldsmisdaad wat teen boere gepleeg word, proporsioneel aansienlik hoër. Verskeie pogings is al aangewend om die moordkoers van Suid-Afrikaanse boere per 100 000 te bereken. Die beste beskikbare berekenings dui daarop dat boere se kans om vermoor te word tussen drie en vier keer so hoog is soos die gemiddelde Suid-Afrikaanse moordkoers, wat alreeds een van die hoogstes ter wêreld is.

·         Gedurende die finansiële jaar van 2016/2017 het marteling plaasgevind met betrekking tot 17,6% van die slagoffers wat vermoor is. Marteling tydens plaasaanvalle is besig om toe te neem.

·         Die polisie se reaksie op plaasmoorde is sedert 2003 stelselmatig gedeprioritiseer deur die Suid-Afrikaanse regering. In 2003 is die kommandostelsel, wat boere beskerm het, afgeskaf. In 2007 is die beskikbaarstelling van statistieke gestaak, ten spyte van ‘n 25%-toename in plaasaanvalle. In 2014 het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ‘n reeks aanbevelings uitgereik van stappe wat deur die Suid-Afrikaanse regering gedoen kan word om plaasmoorde te stop, waarvan die regering byna geen enkele aanbeveling uitgevoer het nie.

·         Pogings om plaasmoorde op die nasionale agenda te plaas, word deur die regering as publisiteitsfoefies afgelag. Slagoffers wie se geliefdes op plase vermoor is, is al selfs met geweld by die minister van polisie se kantoor uitgestamp.

·         Negatiewe stereotipering van wit boere asook haatspraak waarin geweld teen wit boere verromantiseer word, word vanaf politieke platforms deur senior regeringsleiers gepleeg. President Cyril Ramaphosa, voormalige president Jacob Zuma en verskeie kabinetsministers het hulle al hieraan skuldig gemaak.

·         Daar is gerapporteerde sake van plaasmoordenaars wat onder eed getuig dat hulle wit boere vermoor omdat hulle deur die ANC beïnvloed is om dit te doen.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, dui ook aan dat die organisasie in die lig van die geweldsmisdaadkrisis in die land besluit het om sy bestaande netwerk van 105 gemeenskapsveiligheidstrukture aansienlik te versterk en uit te brei om geweld en ander misdade te help bekamp.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum: Internasionale Skakeling, beteken Sisulu en die regering se misplaaste pogings om die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde inhou, teenoor die internasionale gemeenskap as vals af te maak, dat AfriForum nou sy internasionale veldtog in hierdie verband moet verskerp. Bailey sê dat dié veldtog onder meer behels dat:

·         Suid-Afrikaners versoek word om hulle naam te voeg by die versoekskrif wat AfriForum aan regerings en internasionale beleggers gaan stuur om hulle amptelik te versoek om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om af te sien van planne om eiendomsreg te misken. Meer as 30 000 mense het reeds binne enkele dae hulle name by die versoekskrif gevoeg.

·         Dié versoekskrif plaaslik aan die ambassades van Suid-Afrika se handelsvennote oorhandig sal word.

·         Handelskamers en internasionale beleggers ook gevra sal word om druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas. Dit sluit ook in om die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos te besoek, sou dit nodig blyk te wees.

·         Die internasionale media deurlopend op hoogte gehou sal word van verwikkelinge rakende plaasmoorde, eiendomsreg en ander brandpunte in Suid-Afrika.

·         AfriForum afvaardigings na onder meer Australië, Europa en die VSA sal stuur om regerings, media, meningsvormers, burgerlike organisasies asook internasionale instellings en beleggers in te lig van die situasie in die land.

Benewens internasionale druk gaan AfriForum ook plaaslik ‘n voorlegging maak aan die parlementêre komitee wat aangewys is om die Grondwet te wysig.