|

AfriForum se Endicott-plaaswag in Springs loods padveiligheidsaksie

Die Endicott-plaaswag, verbonde aan AfriForum se Springs-tak, het op 24 Augustus 2019 ’n padveiligheidsaksie van stapel gestuur. Tydens hierdie aksie is verskeie stoptekens, spoedhobbels en padtekens, in samewerking met die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit, opgeknap. Dié aksie volg nadat die gemeenskap aangedring het op instandhouding.

Die gemeenskap het druk op die munisipaliteit geplaas oor die volgende kwessies: die herstel van vyf groot waterlekke, agt brandkrane wat in ’n swak toestand is, vullis wat reeds vir drie maande nie verwyder word nie en onduidelike padtekens en ongeverfde spoedhobbels. Die munisipaliteit het gehoor gegee aan sekere kwessies en die vullis is uiteindelik op 27 Augustus 2019 verwyder. Verder het die munisipaliteit, met behulp van die Gautengse pepartement van paaie, die R42/R29 geverf en ook verf aan die plaaslike tak voorsien om die paaie se strepe en padtekens oor te verf.

“Die aksie is deur 25 gemeenskapslede en 20 leerders aangepak. Altesaam 10 spoedhobbels en vyf stoptekens is opgeknap, terwyl vier brandkrane herstel is. Die gemeenskap het ook verversings vir die vrywilligers geskenk. Ons wag nou vir die munisipaliteit om betonpale en -deksels vir die brandkrane te voorsien,” sê Roben Collen, voorsitter van AfriForum se Endicott-plaaswag.

 

“AfriForum stel dit hoog op prys wanneer ’n plaaslike munisipaliteit aan aksies deelneem wat ons van stapel stuur. Ons doen ook deurlopend ’n beroep op die gemeenskap om hul samewerking te gee,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings