| |

AfriForum se Ellisras-tak gaan misdaad met Projek Nehemia beveg


AfriForum se Ellisras-tak het die afgelope naweek Projek Nehemia – ’n strategie teen geweldsmisdaad – in dié dorp van stapel gestuur. Tydens ’n beplanningsessie is daar op verskeie aspekte gefokus om misdaad in die Waterbergdistrik te bekamp en om gemeenskapslede by te staan om hulself deur middel van beter organisering meer weerbaar te maak.

“Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. As ons saamwerk, kan ons ons gemeenskappe proaktief beveilig – en Projek Nehemia doen juis dít,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Grobbelaar verduidelik dat die inherente operasionele vermoëns tussen verskillende gemeenskappe deur hierdie strategie op ’n doeltreffende wyse gekoördineer word. Hy meen dat daar met Projek Nehemia se verskerpte gemeenskapsintelligensieprojekte nóg meer proaktief opgetree kan word teen geweldsmisdaad.

“Hierdie proaktiewe misdaadbekampingstrategie fokus op samewerking tussen verskillende die gemeenskap se verskillende veiligheidsorganisasies,” sê Grobbelaar.

AfriForum se Nylstroom-, Warmbad-, Ellisras-, Tzaneen- en Marble Hall-buurtwag, sowel as verteenwoordigers van gemeenskapspolisiëringsforums, sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede uit Ellisras het aan die beplanningsessie deelgeneem.

“Gemeenskappe moet self organiseer en betrokke raak om hul veiligheid te verseker. Ons kan nie op die SAPD alleen steun om veiligheid te verseker nie, aangesien hulle eenvoudig nie die kapasiteit het om dit te doen nie. Die samewerking van alle veiligheidsrolspelers is van kardinale belang om ’n verskil te maak,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings