AfriForum se Ellisras- en Matlabas-buurtwag ontvang opleiding


Lede van AfriForum se buurtwagte in Ellisras en Matlabas het op Saterdag 23 Maart 2019 gevorderde opleiding ontvang in 10 verskillende kategorieë, wat strek van basiese hand-tot-hand-gevegs- en arrestasietegnieke, asook hoe om ’n voertuig te nader. Dié opleiding vorm deel van die voordele wat AfriForum aan sy buurtwaglede bied. Dit bemagtig ook buurtwagpatrolleerders om korrek en binne die raamwerk van die wet op te tree sodat hulle hulself in noodsituasies kan beskerm.

Agt mense het die eerste opleidingsessie bygewoon, waarna ’n tweede sessie op 6 April sal plaasvind. Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg, is die opleiding van kardinale belang. Dit verseker dat AfriForum se buurtwagte op standaard is en die nodige kennis het om hulself en hul gemeenskap doeltreffend in noodsituasies te kan help.

“Hierdie soort opleiding stel ons buurtwagte in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan. Opleiding soos dié gee ons gemeenskappe die oorhand in die geveg teen misdaad en laat ons toe om onsself so doeltreffend as moontlik te kan verdedig.”

Die opleiding is aangebied in samewerking met Smart Defence SA, ’n geakkrediteerde opleidingsmaatskappy. Smart Defence SA het ook aan AfriForum-lede ’n 50%-kortingsvoordeel gebied.

“AfriForum nooi graag ander gemeenskappe uit om ook deel te word van die verskil en om die opleiding saam te kom bywoon. Ons as gemeenskap is verantwoordelik vir ons eie veiligheid en daarom moet ons sorg dat ons opgelei is om mekaar so goed as moontlik te kan bystaan,” sê Grobbelaar.

Jy kan jou plek vir die opleiding by Aldo Venter by 076 506 4076 bespreek. Kostes beloop R750 per persoon en vir AfriForum-lede slegs R375 per persoon.

Soortgelyke plasings