AfriForum se Elliot-buurtwag help om gekaapte voertuig op te spoor


Die AfriForum-buurtwag in Elliot het tydens die burgerregte-organisasie se nasionale patrollie op 8 Maart die polisie gehelp om ’n minibustaxi op te spoor wat vroeër die dag gekaap is.

Die polisie het tydens hul ondersoek bloed in die taxi gevind, waarna die vyf insittendes van die taxi in hegtenis geneem is. Die verdagtes is na die polisiestasie geneem vir verdere ondervraging.
Die eienaar van die taxi het inligting oor die taxibestuurder se laaste roete aan die polisie verskaf. Dít het hulle in staat gestel om die taxibestuurder se bebloede lyk op ’n nabye plaas op te spoor.

“Met meer samewerking en bystand tussen gemeenskapslede, die buurtwag en polisie kan ons die dorp ’n veiliger plek maak,” sê Dennis Schmidt, voorsitter van AfriForum se Elliot-tak.

AfriForum se Elliot-tak het in 2012 daarvoor bekend geword dat hulle nou met die Elliot-taxivereniging saamwerk.

“Buurtwagte in dorpe is die oë en ore van die polisie. Mense kan aktief ’n verskil in hul gemeenskappe maak deur deel te word van ’n buurtwag en deel te neem aan die nasionale patrollie,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings