|

AfriForum se buurtwagte tree pro-aktief op teen misdaad

AfriForum het tans sowat 100 buurtwagte wat poog om pro-aktief teen misdaad op te tree ten einde gemeenskappe te help beveilig. Sedert die begin van die jaar het dié buurtwagte reeds verskeie suksesse behaal.

Diefstal

Lede van AfriForum se Pretoria-Wes-buurtwag, die Tshwane Metroraad se kabeldiefstaleenheid en ’n privaat sekuriteitsmaatskappy het twee voorvalle van kabeldiefstal in onderskeidelik Kerk- en Maundestraat gefnuik. Die puik samewerking tussen die partye het daartoe gelei dat die buurtwag die kabeldiewe kon verjaag voordat enige kabels gesteel of beskadig is.

Die buurtwag in Vanderbijlpark het ook ’n vermeende kabeldief gevang en aan die SAPD oorhandig. Die verdagte was na bewering besig om helder oordag by ’n elektriese substasie in Carpenterstraat te probeer inbreek.

Lede van AfriForum se Benoni-buurtwag het in samewerking met die SAPD, die gemeenskapspolisiëringsforum en PHP Sekuriteit twee vermeende verdagtes in besit van ’n gesteelde mangatdeksel aangekeer.

In nog ’n voorval het ’n AfriForum-buurtwaglid ’n verdagte voertuig met ’n registrasienommer opgemerk wat reeds by vorige misdaadvoorvalle betrokke was. Die buurtwaglid het die voertuig vir sowat tien minute lank agtervolg en op die Benoni Crime Group-radionetwerk vir bystand gevra. Lede van die GPF, PHP Sekuriteit en die SAPD is ontbied, waarna die twee verdagtes gearresteer is.

Lede van die AfriForum-buurtwag in Randfontein het ook onlangs in samewerking met die SAPD patrollie gery waartydens verskeie arrestasies uitgevoer is.

Dwelmklopjagte

AfriForum se buurtwag in Ellisras het in samewerking met Monster Security Services twee persone aangekeer wat in die besit van dagga was tydens die interhoër atletiekbyeenkoms by Hoërskool Ellisras. Dié persone is aan die SAPD oorhandig.

’n Klopjag in Edenvale het ook vrugte afgewerp toe AfriForum in samewerking met Top Security, Mamba Special Ops, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Genesis K9-eenheid en die 24/7 Security K9-eenheid die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) gehelp het om twee vermeende dwelmhandelaars vas te trek.

Tydens dié klopjag is daar op 14 sakkies kokaïen en twee sakke dagga, met ’n gesamentlike waarde van R4 500, beslag gelê. Twee arrestasies is ook gemaak.

AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het ook onlangs in samewerking met die SAPD ’n sigbaarheidsaksie in die Hercules-gebied gehou en later die aand is vier dwelmverwante arrestasies gemaak.

Plaasaanval

Die blitsige en doeltreffende optrede van die AfriForum-buurtwag se protospan in Vryburg het betreders op ’n plaas in dié gebied op die vlug laat slaan.

’n Boer in die distrik het die AfriForum-buurtwag se hulp ontbied nadat hy verdagte persone op sy werf opgemerk het. Een van die verdagtes was volgens die boer ook gewapen met ’n vuurwapen. Die protospan het dadelik gereageer en die plaas te voet bereik omdat al die hekke gesluit was.

Hulle het verdagtes op die werf opgemerk en die situasie dopgehou. Omdat die werf baie verlig is, kon die protospan nie ongesiens nader beweeg nie en het die verdagtes onraad vermoed en op die vlug geslaan. Die protospan het die verdagtes in die donker veld verloor. Die boer, sy gesin en plaaswerkers is ongedeerd.

Bystand

AfriForum se nuutgestigte Nylstroom-buurtwag het ’n massa-patrollie gehou om sigbaarheid in die dorp te verhoog. Die buurtwag het ook vanjaar by ’n aantal ongelukstonele bystand verleen, onder meer by ’n ongelukstoneel waar ʼn trok wat varke vervoer het langs die hoofpad aan die brand geslaan het. AfriForum-buurtwaglede het die verkeer gereguleer en die brand probeer blus in ’n poging om die diere uit die brandende waens te kry.

Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het in samewerking met die SAPD, die gemeenskapspolisiëringsforum en ander veiligheidsmaatskappye ’n veiligheidsaksie in dié dorp geloods, waartydens ’n aantal onwettige immigrante vasgetrek en voertuie by padblokkades vir onwettige voorwerpe deursoek is.

Soortgelyke plasings