AfriForum se Bultfontein-tak help om gesteelde voertuig op te spoor


AfriForum se Bultfontein-buurtwag het op Sondag 12 Mei 2019 gehelp om ’n gesteelde voertuig op te spoor en aan die eienaar terug te besorg.

’n Persoon, wat een van die Tswelopele plaaslike munisipaliteit se voertuie bestuur het, is Sondagoggend omstreeks 05:00 deur twee gewapende mans oorrompel. Die bestuurder is uit die voertuig gedwing, aan ’n paal vasgebind en sy mond is toegebind. Die slagoffer kon homself teen ongeveer 08:05 los kry en het hulp ontbied.
Die polisie het die inligting aan die buurtwagvoorsitter deurgegee waarna hy dadelik die buurtwag en ander sektors daarvan in kennis gestel het. Die buurtwag het onmiddellik met intense patrollering begin en die voertuig is ongeveer 7 km op die R708 Hertzogville-pad tussen die lang gras gewaar. Die voertuig, ter waarde van ongeveer R350 000, is aan die polisie oorhandig sodat forensiese ondersoeke gedoen kan word.

“Danksy die uitstekende samewerking tussen die polisie en die buurtwag kon ons op dié misdaad reageer,” sê Tony Swanepoel, voorsitter van AfriForum se Bultfontein-tak.
“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van wat bereik kan word wanneer die polisie en plaaslike buurtwag saamwerk. AfriForum se Bultfontein-tak en -buurtwag tesame met die polisie het al uitstekende resultate bewerkstellig. Die tak en buurtwag doen uitmuntende werk en is ’n voorbeeld van hoe misdaad beveg kan word as die gemeenskap, buurtwag en polisie saamwerk. Die tak en buurtwag sal aanhou om misdaad in die dorp te beveg,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

Raak by AfriForum betrokke en woord deel van die oplossing: SMS “Bultfontein” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings