AfriForum se Bronkhorstspruit-tak hou skoonmaakaksie as deel van boomplantmaandprojek


Die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het tydens die naweek van 15 September ’n skoonmaakaksie by ’n park tussen die Erasmus-woonbuurt en die N4-snelweg gehou. Dit het ook deel gevorm van AfriForum se boomplantmaandprojek wat daarop fokus om indringerplante en -bome te verwyder. Indringerbome wat verwyder is, is ook behandel om te voorkom dat hulle weer uitloop.
Slegs die helfte van die indringerbome is egter tydens hierdie aksie verwyder; die res sal tydens opvolgaksies verwyder word.
G.E. Response, een van die plaaslike sekuriteitsmaatskappye, het ’n sekuriteitswag beskikbaar gestel om na die veiligheid van diegene wat by die aksie betrokke was om te sien.

“Hierdie is ’n uitstekende aksie waar ’n tak in sy gemeenskap betrokke raak en self na die welstand van sy dorp of stad en onmiddellike omgewing omsien,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“Ons as tak is dankbaar teenoor lede van die gemeenskap wat bereid is om betrokke te raak en self te begin doen. Ons tak beplan om ook tydens Oktobermaand hierdie tipe aksies sterk te dryf,” sê Magda Lewis, voorsitter van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak.

AfriForum doen ’n beroep op die onderskeie gemeenskappe in die Tshwane-metro om by die plaaslike takke betrokke te raak en aktief deel te neem aan die takke se aktiwiteite. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings