|

AfriForum se Brits-tak herstel rioolinfrastruktuur

Die AfriForum-tak in Brits het op 14 Julie 2020 ’n rioollyn in die Sonop-area herstel nadat die organisasie se COVID-19-taakspan vroeër opgemerk het dat riool in die strate afvloei. ’n Rioollyn naby die Sonstraaltjie Kleuterskool wat beskadig en verstop was, het dié probleem veroorsaak. Die tak het sowat R4 500 bestee om die infrastruktuur te vervang.

“Die riool wat in die strate gevloei het, het ’n geweldige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap ingehou. Die rioollek só naby aan ’n kleuterskool het die situasie nog meer krities gemaak en daarom het AfriForum besluit om die gemeenskap met die herstelwerk te help. AfriForum sal nie huiwer om dienste te lewer daar waar die munisipaliteit misluk nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens die Brits-takbestuur het die Sonop-gemeenskap die afgelope tyd met groot rioolprobleme gesukkel en moes daar ingegryp word om die probleem hok slaan. Die tak bedank graag die AfriForum-lede in Brits vir hul maandelikse finansiële bydraes – sonder hulle ondersteuning sou die tak dit nie kon doen nie.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om betrokke te raak sodat ’n nóg groter verskil gemaak kan word en om soortgelyke projekte aan te pak. SMS “Brits” na 45351 (R1) om by dié tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings