|

AfriForum se Brakpan-tak staan gemeenskap by tydens inperking

AfriForum se Brakpan-tak was sedert die aanvang van die nasionale inperking (27 Maart 2020) tot 2 April 2020 met verskeie aktiwiteite besig.

Die Brakpan-tak het in samewerking met Dalpark Kaléo NG-gemeente ’n sentrale punt geskep waar skenkings van onder meer noodsaaklike kos en klerasie gekoördineer kan word. Skenkings word bymekaargemaak, billik verdeel, verpak, en geadresseer. AfriForum se Brakpan-taklede word vandaar ingespan om die aflewerings van skenkings na behoewendes en verdienstelike gesinne te vervoer. Nagenoeg 15 gesinne word reeds op hierdie wyse versorg. Ou inkleurboeke, inkleur- en vetkryt, speelgoed en speletjies is ook uitgedeel om die impak van die inperking op die kleuters en kinders te verlig.

AfriForum se beradingsdienste in Brakpan staan ook mense tydens die krisistyd by. Kapelaansdienste is tydens 19 dwelmverwante sake aangebied, asook drie beradingsessies en besoeke aan ’n plek van tydelike veilige bewaring vir mense met dwelmprobleme. Meer as 50 ure se vrywillige diens is uiteindelik aan die gemeenskap verleen.

Lede van die Brakpan-tak het ook in samewerking met Meals-On-Wheels op ’n daagliks basis bystand verleen in die bediening van meer as 500 maaltye aan hawelose mense. Dit behels voorbereiding van maaltye, die toepassing van sosiale distansiëring en die dokumentering van behoeftiges wat deur Ekurhuleni-metro na plekke van veiligheid geneem moet word.

“Dit is belangrik dat gemeenskappe mekaar steeds tydens die inperking bystaan en vir mekaar hoop skep,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Soortgelyke plasings