|

AfriForum se Brakpan-tak skenk gedenkwoud vir dorp se 100ste bestaansjaar

Die AfriForum-tak in Brakpan het in September as deel van die organisasie se boomplantmaandprojek 100 vaderlandswilgerbome by die plaaslike begraafplaas geplant ter viering van die dorp se 100ste bestaansjaar.

Lede van AfriForum se Brakpan-tak was drie naweke lank druk besig met voorbereidings vir dié geleentheid. Die projek het in drie fases plaasgevind, waarvan fase een en twee onderskeidelik die uitmeting van die woud en die grou van gate behels het.

“Die 100 bome is op 29 September 2019 ná ’n toewydingsdiens geplant. Na afloop van die aanplanting het die takbestuur ook ’n dankseggingsgeleentheid saam met die Brakpan-gemeenskap gehad,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie net besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Cilliers.

“Om ’n boom te plant is ’n geloofsdaad vir die toekoms. Wanneer jy ’n boom plant weet jy nie of jy self die skaduwee van die boom gaan geniet nie, maar jy het die vertroue dat jou kinders en kleinkinders dit wel gaan doen,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Raak vandag nog by AfriForum se Brakpan-tak betrokke: Stuur ’n e-pos na brakpan.afriforum@gmail.com of ’n WhatsApp-boodskap na 060 740 7444.

Soortgelyke plasings