AfriForum se blou-en-groendruppelprojek: Oos-Kaap se watergehalte getoets


AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dit fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.
AfriForum het gedurende Mei en Junie 2017 ’n aantal dorpe en gebiede in die Oos-Kaap se water getoets om die gehalte van die munisipale drink- en rioolwater te bepaal.
Tarkastad
Daar is vasgestel dat Tarkastad se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor die rioolwater wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie.
Molteno en Sterkstroom
Daar is vasgestel dat albei dorpe se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. Daar is egter kommer dat rioolwater nie aan gestelde standaarde voldoen nie.

“Ons sal aandag moet skenk aan hierdie rioolaanlegte. Ons kan nie toelaat dat onbekwame munisipaliteite ons waterhulpbronne besoedel nie. Met die mandaat van Molteno en Sterkstroom se inwoners beplan ons om aksie hieromtrent te neem,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Oos-Kaap.

Cradock
Cradock se drink- en rioolwater is getoets en daar is vasgestel dat dit skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Barkly-Oos
Toetse het vasgestel dat Barkly-Oos se drink- en rioolwater skoon is, geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Elliot
AfriForum se toetse het vasgestel dat Elliot se drink- en rioolwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Jeffreysbaai
Daar is bevind dat Jeffreysbaai se drinkwater vry is van ’n oormaat fosfaat en nitraat, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.
Kommer is egter uitgespreek oor die hoë inhoud van yster en mangaan wat in die boorgatwater voorkom en tot ’n bruin-swart neerslag lei. AfriForum se toetse het egter nie betrekking op hierdie metale gehad nie.
Die burgerregte-organisasie is ook bekommerd oor Jeffreysbaai se rioolwater wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie. Die ondersoekspan het egter op die dag wat die toetse uitgevoer is bevind dat twee van die motors wat die pompe aandryf al 14 dae buite werking was.
Port Elizabeth
Toetse het vasgestel dat Port Elizabeth se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, asook dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen.

Daar is egter kommer oor die Swartkopsrivier wat hoë bakterieëvlakke toon. “Die probleem met die Swartkopsrivier is alombekend en AfriForum sal voortdurend druk op die munisipaliteit plaas om ’n gesonde omgewing vir die inwoners van Port Elizabeth te verseker,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Oos-Kaap.

AfriForum gaan hierdie dorpe se watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van die inwoners te beskerm.

Soortgelyke plasings