AfriForum se Bloemfontein-tak bied hulp aan SAPD


Bloemfontein Misdaadintelligensie het die AfriForum-tak in Bloemfontein op 8 Januarie 2019 gekontak en versoek om AfriForum se hommeltuig te gebruik. Die hommeltuig was nodig om ’n huis, waarin verdagtes vermoedelik geskuil het, vanuit die lug te bespied en ontsnappingsroetes te identifiseer. ’n Buurtwaglid van AfriForum se Rayton/Heuwelsig-tak het die hommeltuig gevlieg. D­ie Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se span het uit twee lede van die Bloemfontein-blitspatrollie en ’n lid van die Parkweg-speurtak bestaan. Die hommeltuig is naby die huis geloods en die nodige ondersoek is ingestel, waarna die SAPD op die huis toegeslaan het.

Tydens dié operasie is drie verdagtes gearresteer. Die verdagtes word van opsetlike saakbeskadiging aangekla. Goedere wat vermoedelik gesteel is, is ook op die perseel gevind. Een van die verdagtes is ’n bendelid, terwyl al drie betrokke is by ander misdaadsake wat ondersoek word.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om self hul veiligheid te prioritiseer. Ons kan nie op die regering alleen staatmaak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Joseph Renaud, AfriForum se distrikskoördineerder vir Rosestad.

SMS “Buurtwag” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings