|

AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte wen twee Best of Bloem-toekennings

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein is op 17 Oktober 2019 tydens die Best of Bloemfontein Reader’s Choice-toekennings aangewys as sowel die beste buurtwag as die beste buurtwagforum. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat AfriForum by dié toekenningsgeleentheid vereer word.

Die Best of Bloem-toekennings word jaarliks deur die Bloemfontein Courant aangebied. Daar bestaan 99 kategorieë en altesaam 189 000 stemme is vir vanjaar se toekennings gewerf.

Die toekennings getuig van die uitstekende diens wat AfriForum se vrywilligers – op hul eie tyd en onkoste – aan die gemeenskap lewer. AfriForum se doel is om ’n veiliger en beter gemeenskap te skep en portefeuljes soos gemeenskapsveiligheid, omgewingsake en plaaslikeregeringsake help hiermee.

AfriForum het die afgelope paar jaar baie in Bloemfontein verrig en daar is onder meer nege AfriForum-buurtwagte, ’n 24/7-beheerkamer wat met al die AfriForum-buurtwagte in verbinding kan tree deur middel van herhalers, asook die nasionale radionetwerk. ’n Mediese en reaksievoertuig is aangekoop om op misdaad te reageer. Die mediese voertuig is ’n geregistreerde ILS mediese voertuig wat ten volle toegerus is en deur vrywillige paramedici beman word.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleen vertrou om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Sluit by AfriForum aan en help om misdaad te bekamp: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings