AfriForum se Biesiesvlei-buurtwag help om veediewe aan te keer


AfriForum se Biesiesvlei-buurtwag het op Donderdagaand 16 Mei 2019 gehelp om gesteelde vee op te spoor en die diewe vas te trek. Die buurtwag het om 20:30 inligting ontvang dat vee op die plaas Leeukuil in die Vermaas/Gerdau-omgewing gesteel is, waarna die buurtwaglede en die plaas se bure saamgewerk en die spore gevolg het. ’n Verdagte voertuig is net agter die Biesiesvlei-hoewes opgespoor en die tien koeie, een bul en veertien kalwers – wat nog op die voertuig was – is teruggevind. Die geskatte waarde van die vee is ongeveer R350 000.

Die voertuig wat tydens die diefstal gebruik is, is onpadwaardig en het geen nommerplate nie, terwyl die bestuurder ook nie oor ’n rybewys beskik nie. Die bestuurder en die organiseerder, wat aan die buurtwag bekend is, is in hegtenis geneem. Laasgenoemde word van verskeie ander misdade verdink, maar kon nog nie voorheen vasgetrek word nie. Die SAPD se veediefstaleenheid was ook op die toneel.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, bedank die AfriForum-buurtwag en ander lede van die Biesiesvlei-gemeenskap vir hul vinnige en onbaatsugtige optrede.

“Ek het groot waardering daarvoor dat gemeenskapslede so na mekaar omsien en mekaar in tye van nood bystaan. Op hierdie manier sal ons die omgewing se veiligheid net verbeter,” sê Pretorius.

Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS “Biesiesvlei” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings