AfriForum se Bethlehem-tak en Jeug hou ’n kranslegging

 

Die AfriForum-tak in Bethlehem het op 9 Februarie 2019 die Hollandse begraafplaas in dié dorp skoongemaak en dit ook goed gedink om ’n kranslegging te hou en sodoende eer te betoon aan helde uit ons geskiedenis.
Die jeugvleuel van bogenoemde tak is hierby betrek sodat hulle meer kan leer oor Suid-Afrika se geskiedenis, asook dat hulle waarde daaraan kan heg om helde van weleer te onthou.
Die kranslegging het hulde gebring aan die volgende persone:

  • Charlotte Theron, aan wie die Charlotte Theron-kinderhuis in Bethlehem sy naam en bestaan te danke het; en
  • Genl. Rooi Michael Prinsloo, wat ’n held in die Anglo-Boereoorlog was en sy aan sy met genl. Christiaan de Wet geveg het.

“AfriForum se Bethlehem-tak wil graag die gemeenskap en die jeug by hierdie tipe aksies betrek. Daar is baie van ons geskiedenis wat verlore gegaan het en dit is ons werk om dit weer te herontdek. Jou geskiedenis vorm jou tot die mens wat jy vandag is,” sê JP Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Bethlehem-tak nooi die gemeenskap uit om by hierdie tipe aksies betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Bethlehem” na 31481 (R1) of skakel die takvoorsitter direk by 083 956 4221.

Soortgelyke plasings