AfriForum se Bethal-tak woeker in 2018


AfriForum se Bethal-tak het 2018 op ’n hoë noot met ’n reuseslaggatvullingsprojek in Bethal se sentrale sakekern afgesluit.
Meer as 450 sakkies teer is tydens hierdie aksie gebruik. Vrywilligers het ingespring om te help en die Bethal GPF het ook hand bygesit deur die verkeer te reguleer.

“Die Bethal-tak se slaggatvullingsprojek vir 2018 het deur die jaar meer as 2 400 sakkies teer gebruik en die koste aan die projek verbonde het R150 000 oorskry. Ongelooflike hulp is vanuit die Bethal-gemeenskap ontvang en is ’n bewys dat die gemeenskap kan saamwerk om Bethal vir almal wat in die dorp woon te verbeter,” sê Eugene Hartman, voorsitter van die AfriForum-tak in Bethal.

Tydens ’n vullisverwyderingskrisis wat die dorp vanjaar beleef het, het die AfriForum-tak en verskeie ander rolspelers ook ingespring om die krisis te help verlig. Meer as tien trokvragte vullis is verwyder nadat die munisipaliteit se vullisverwyderingsdienste weens ’n tekort aan vragmotors by die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gestaak is.
Die tak het ook deurlopend aan die netheid van die sentrale sakekern aandag gegee. Onkruid is met gif gespuit en vullis is met behulp van ’n privaat kontrakteur verwyder. Vullisdromme is ook aangebring en nóg plekke waar dromme uitgesit gaan word, word tans geïdentifiseer.

“Ons poog om die dorp te verbeter deur volhoubare oplossings aan die gemeenskap te bied. Daar is duidelike tekorte aan vullisdromme op die dorp en dit lei daartoe dat die strate met rommel besaai is. Die oprigting van ekstra vullisdromme gaan help om hierdie probleem op te los,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Kleiner aksies soos die opruim van die eiland by die Nestlé-bruggie en skoonmaakaksies by die Bethal-begraafplaas asook die netjiesmaak van die gedenkplein is ook deur die loop van die jaar deur die tak aangepak.
AfriForum se tak in Bethal het ook aan die organisasie se jaarlikse boomplantmaand deelgeneem, waartydens bome aan tehuise en ook aan die plaaslike polisiestasie geskenk is. AfriForum het vanjaar meer as 3 000 bome regoor die land geplant as deel van hierdie projek.

“Bethal het in die laaste 15 jaar baie agteruitgegaan, maar ons sal nie ophou om die verval van ons dorp te probeer voorkom nie. Dit is immers óns dorp; óns erfenis,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.

Raak vandag by AfriForum se Bethal-tak betrokke: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings