AfriForum se Bethal-tak verseker groen toekoms


AfriForum se Bethal-tak het 30 bome by verskeie plekke op dié dorp geplant as deel van die burgerregte-organisasie se boomplantinisiatief vir 2018.

Palmoord Sentrum vir Bejaardes, Wonderland Kleuterskool, Bethal Independent Primary School, die plaaslike polisiestasie en die park in Golden Raystraat het almal bome ontvang. Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het AfriForum sedert September al meer as 3 000 bome landwyd geplant.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul plaaslike omgewings aard.

“Só ’n boomplantprojek bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Die 30 nuwe witkareebome in Bethal is deel van ons erfenis,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur “Bethal” na 45350 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings