AfriForum se Bethal-tak is hard aan die werk


AfriForum se Bethal-tak is weer eens besig om die dorp ’n beter en skoner plek vir inwoners te maak.

Die jaarlikse slaggatprojek het weer afgeskop en 240 sakkies teer is reeds gebruik. Taklede het slaggate in Ribbok- en Blesbokstraat herstel.
Verder is verskeie aksies geloods om die netheid van die dorp te verbeter. Gras is rondom die Bethal-polisiestasie, die N17 en ook om die Nestlè-brug gesny. ’n Kontrakteur is die laaste paar maande gebruik om gereelde skoonmaakaksies in die sentrale sakesektor van Bethal te behartig.

“Die lang gras wat die dorp oorheers is ’n groot veiligheidsrisiko. Kriminele gebruik dié gebiede om gesteelde goedere te versteek en ook om aan die gereg te ontglip. Inwoners word gevra om te help deur die gebiede in die dorp met lang gras te help onderhou. As elke inwoner sy deel doen, sal ons die dorp vinnig netjies kry,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Laeveld.

Die rotstuin wat ’n paar jaar gelede aangebring is, is ook weer skoongemaak en AfriForum se Bethal-tak hou dit gereeld netjies.
Die hoek van Kieser- en Du Plooystraat is ook beveilig deur borde aan te bring wat motoriste daarop wys dat dit doodloop. Dit is gedoen ná ’n ongeluk daar plaasgevind het.

“Die dorp se netheid is vir ons belangrik en juis daarom gaan ons nog asblikke aanbring by punte wat ons geidentifiseer het. Ons neem eienaarskap van die probleme in Bethal en los dit self op,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.

Raak betrokke by AfriForum in Bethal: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings