|

AfriForum se Benoni-buurtwag verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se Benoni-buurtwag het op 8 November 2019 aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem.

13 patrolleerders het van 20:00 tot 04:00 ongeveer 634 km in 45 manure afgelê. Geen ernstige voorvalle is aangemeld nie.

AfriForum het op 30 Oktober 2019 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Marié Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul omgewing te beveilig,” sê Ettiene de Klerk, voorsitter van AfriForum se Benoni-buurtwag.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings