AfriForum se Argent-plaaswag help SAPD om vermeende plaasaanvallers te arresteer


AfriForum se Argent-plaaswag in Delmas en die Sundra SAPD het op 1 Julie 2019 altesaam 10 mense gearresteer.

Die eerste vyf arrestasies was vermeende plaasaanvallers. Petroljoggies by die plaaslike vulstasie het die Argent-plaaswag in kennis gestel van ’n verdagte voertuig met vyf passasiers wat al vir ’n geruime tyd daar staan. Die plaaswag het ondersoek ingestel en die SAPD is ontbied. Die voertuig is ondersoek en daar is op verskeie items beslag gelê, onder meer huisbraakgereedskap, messe, toue, kabelstroppe, pangas en wors wat die sogenaamde two-step-gif bevat het. Die verdagtes het erken dat hulle ’n plaas in die omgewing teiken en het beplan om na donker toe te sak. Die SAPD het die verdagtes in hegtenis geneem.
Ná afloop van die arrestasies het die plaaswag na die vulstasie teruggekeer en nóg vyf verdagtes betrap met verskeie gereedskap in hul besit wat tipies gebruik word om vragmotors se bande en batterye te steel. Dié verdagtes is ook deur die SAPD gearresteer.

“AfriForum se Argent-plaaswag is trots daarop om op hierdie wyse te kon help dat ’n plaasaanval suksesvol afgeweer is. Ons wil die gemeenskap aanmoedig om meer betrokke te raak en deel van plaaslike veiligheidsnetwerke te word,” sê Wessel Badenhorst, voorsitter van AfriForum se Argent-plaaswag.
AfriForum prioritiseer plaasaanvalle as ’n geweldsmisdaad en staan gereeld slagoffers by. Dit is vir ons dus ’n groot eer dat ons hierdie tipe misdaad – met behulp van waardevolle inligting en proaktiewe optrede – kan voorkom en ons gemeenskappe se weerbaarheid te verhoog,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings