AfriForum se Apiesrivier-buurtwagte bevorder gemeenskapsveiligheid


AfriForum se Apiesrivier-tak in Pretoria het groot planne om kommunikasie- en kameramonitering in die gemeenskap te verbeter met die implimentering van ’n gemeenskapsbeheerkamer in die Apiesrivier-gebied. Die projek is van stapel gestuur om die gemeenskap se weerbaarheid te verhoog.

Die beheerkamer sal in verskillende fases met die nodige toerusting uitgerus word wanneer fondse beskikbaar is, maar monitering word reeds vanuit die beheerkamer gedoen.
Personeel van GAC Risk Solutions en gemeenskapslede sal dié beheerkamer beman. Danksy die beheerkamer en samewerkingsooreenkoms met GAC Risk Solutions kan hulle met AfriForum se nasionale radionetwerk bystand aan die noordstreekbuurtwagte bied.

“Die projek sal in verskillende fases voltooi word. Ons beplan om reeds teen einde Augustus kameras in die gebied te installeer wat ons in staat stel om die gebied 24 uur te moniteer. Die toevoeging van hierdie beheerkamer sal tot beter weerbaarheid van die gemeenskap lei,” sê Jaco Brits, ondervoorsitter van AfriForum se Apiesrivier-tak.
“Die krag lê in die gemeenskap. Hierdie is ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat saamstaan om ’n verskil te maak. AfriForum se Apiesrivier-buurtwagte werk daagliks om die gemeenskap se weerbaarheid te verhoog. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer kan bereik word om die Apiesrivier-gemeenskap te beveilig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

AfriForum se Apiesrivier-tak wil graag die verskillende instansies bedank wat by hierdie projek betrokke is: GAC Risk Solutions, die Bultfontein-gemeenskap, Apiesrivier-brandbeskermingsvereniging en die Vastfontein-gemeenskap.

Soortgelyke plasings